Cause Index

StudentePlein

StudentePlein is in 2020 gestig met die doel om die kwynende ondersteuning vir die Afrikaanssprekende student aan die Universiteit Stellenbosch aan te spreek. Ons uitgangspunt is dat die Universiteit geen proaktiewe stappe neem om grondwetlike veeltaligheid te help verwesenlik nie. Inteendeel, die instelling takel die status van Afrikaans op die kampus af deur toenemend in die rigting van ‘n eentalige Engelse bestel te beweeg. Terwyl taalaktivisme deur regsweë, openbare polemiek en bewusmaking een been in die stryd is om ‘n openbare ruimte vir Afrikaans op te eis, identifiseer StudentePlein die regstreekse gebruik van Afrikaans as studentehulpbron as ‘n noodsaaklike tweede been. Jong Afrikaanssprekendes moet die infrastruktuur en hulpmiddels gegun word om hul ter wille van taalaktivisme en loopbaan-kundigheid in Afrikaans voor te berei. StudentePlein spreek dus die gaping op Maties aan waar die Universiteit enersyds nie betekenisvolle taalhulpbronne aan Afrikaanse studente bied nie, en andersyds die normalisering van ‘n Engelse taalhegemonie in die akademie en loopbaan-opleiding aanvaar. Ons aanvaar egter dat akademiese bemagtiging nie voldoende is nie; die Afrikaanse student in Suid-Afrika moet homself/haarself kan uitdruk en identifiseer binne ‘n taalgemeenskap waarin die soeke na beter pedagogiese en ander oplossings saam nagestreef kan word en taalidentiteit opnuut kan herleef. Stellenbosch behoort allermins die enigste taalgemeenskap vir jong Afrikaanse studente te huisves, maar ons begin egter by Stellenbosch. Die ideaal is ‘n konglomeraat van verskeie Afrikaanse taalgemeenskappe vir studente regoor die land wat in terme van kommunikasie en koördinasie verenig word deur ‘n virtuele aanlyn-gemeenskap op studenteplein.co.za. Ons filosofie is om ‘n redelike totaliteit van Afrikaanse akademiese hulpbronne te ontgin en beskikbaar te stel op so ‘n wyse dat die Afrikaanse student ‘n tree voor die res kan wees -- mits hy/sy natuurlik in Afrikaans studeer.